Connect with us

News

Toneelstuk daag gehoor uit om vooroordele te bevraagteken

Published

on

Die bekende akteur en TV-ster, Christo Davids, se meesleurende toneelstuk, Ballroom Boys, het teatergangers op 21 September in die Atterbury-teater uitgedaag om opnuut te dink oor hul vooroordele teenoor diegene wat om ’n tweede kans vra na tronkstraf uitgedien is.

Met hierdie produksie wys akteur en regisseur Anthony “Speedo” Wilson sy veelsydigheid as regisseur wat verskeie temas uit ’n teks kan ontgin en sy gehoor hul eie vooroordele sowel as stigmas in ’n gemeenskap, kan laat bevraagteken.

Die toneelstuk sentreer rondom die oudste broer van ’n gesin, Niekie, wat na sy tronkstraf vrygelaat word en huis toe keer na sy ma en broer.

Niekie, knap vertolk deur akteur Quillon Lawrence, dra swaar aan die stigma van sy tyd in die gevangenis, maar nog swaarder aan die emosionele skade van sy afwesige pa wat die gesin verlaat het.

Lawrence onderspeel sy rol op ’n fyn, maar dramatiese manier en is veral in beheer van sy emosies wanneer hy na sy tyd in die tronk verwys en sy begeerte uitdruk om ’n “ballroom dancer” te kon wees soos sy pa eens was.

Sy moedelose ma word vaardig en behendig gespeel deur die aantreklike Theodora Morris. Sy vertolk haar rol met ’n sjarmante elegansie as sy weer en weer ’n sjaal om haar skouers vou en ’n netjiese dans of twee, asook veel moeiliker dansbewegings rondom die verhoog saam met Lawrence uitvoer.

Haar hartsbegeerte is dat hulle tog net weer ’n familie moet wees. Sy voel die mense om haar in die gemeenskap sowel as die polisie, het haar gefaal om haar seuns van mekaar en die misdaad wat hul al hoe dieper intrek, te red.

Morris is ’n oortuigende bekommerde ma wat nie haar jongste seun, Carlo, se foute, of die opofferinge wat haar oudste seun maak, wil raaksien nie. Sy glo daarin om te “smile and apologise” wanneer die lewe druk en verkeerde keuses gemaak word.

Carlo, met ’n jong maar vaardige akteur Serrano Lawrence in die rol, beeld ’n nukkerige en onversetlike karakter uit wat ’n verkeerde pad stap en die vermanings verontagsaam van sy ouer broer om nie by die gangster-kultuur betrokke te raak nie. Hy delf diep in homself om die bendegeweld en die emosionele gevolge daarop op ’n jong gemoed, geloofwaardig uit te beeld.

Die toneelstuk werk op tot ’n klimaks waar die konfrontasie tussen broers tot gewigtige besluite lei.

Ballroom Boys is ’n dramatiese verkenning van verhoudings tussen broers, ma’s en seuns asook hoe die gemeenskap geregtigheid en tweede kanse ervaar.

Wilson sê die stuk moet as opvoedkundige teater gesien word waarin daar ’n boodskap oor gangsters, die misbruik van dwelms maar ook verbrokkelende verhoudings is.

Die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans, die Atterbury Trust en die Eersterust Taal en Ontwikkelingsforum het hande gevat om hierdie opvoering moontlik te maak.

Die stuk is voorafgegaan deur die lees van gedigte deur digters soos Peter Daniels, digter en musikant, Robert Pearce, Audy Hendricks en Evelyn de V