Connect with us

Motoring

Silwerware vir Noordelikes rugbyklub

Published

on

Die vreugde en glorie van silwerware in die vertoonkas, wat die Noordelikes rugbyklub in Pretoria-Noord ontwyk het sedert die herlewing van die klub in 2022, het uiteindelik gerealiseer.

Noordelikes se eerste- en tweedespan het vanjaar in die Blou Bulle se Presidentsliga gekompeteer.

Albei spanne het besonder goed presteer. Die eerstespan het byna in die halfeindstryd teen die uiteindelike kampioen, Korrektiewe Dienste, verras. Ongelukkig het hulle in die laaste tien minute van dié klipharde stryd twee drieë afgestaan om met 31-44 te verloor.

Noordelikes se tweedes was egter die klub se trots in 2024 en het die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) met 18-13 in die eindstryd geklop om as kampioen gekroon te word.

Een van die positiewe tekens van groei in die klub is dat Noordelikes vanjaar ook ’n derdespan kon akkommodeer. Dié span het in die Blou Bulle se Reserweliga gespeel, waar hulle tot die halfeindstryd van die Skild-afdeling gevorder het.

Advertisement

Ter wille van perspektief kan genoem word dat Noordelikes se derdes in hierdie liga teen die meeste Reserweligaklubs se eerstespane gespeel het. Hulle het uiteindelik teen Tswaing se eerstes in die halfeindstryd verloor.

Die suksesvolle wyse waarop Noordelikes hulself in die Presidentsliga gevestig het, word ook bewys deur die feit dat ses van die klub se spelers gekies is om verteenwoordigende rugby te speel vir die Blou Bulle se Platteland span, wat eersdaags in drie wedstryde teen die Luiperds (in Leeudoringstad) en Limpopo (in Nylstroom en Pretoria) betrokke gaan wees.

Noordelikes se eerstespan afrigter, Dillan Hanafey, is ook as afrigter van dié span aangewys.

Volgens die klub se voorsitter, Johan Beukes, beplan hulle om volgende jaar ’n o.20 span in te skryf en hy doen ’n beroep op spelers en afrigters wat betrokke wil raak om hom so gou moontlik te kontak.

“Dit gaan goed met Noordelikes en ons vorder stadig maar seker na ons droom om oor drie jaar, teen die einde van 2027, Carltonbeker status te verwerf en klubrugby in die Noorde te vestig waar dit hoort – tussen die bestes,” het Beukes aan Rekord gesê.

Advertisement

Vir enige navrae kan Johan Beukes geskakel word by 079-247-0501.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Advertisement



Continue Reading
Advertisement